Stappe van Sielewenning:
Diagnose Redenasie Begeleiding Oriëntering Dissipelskap
5.4 Oriëntering:
Die persoon is, indien hy die getuienis van die Heilige Gees in sy hart het dat hy gered is, nou weergebore. Dit beteken dat hy ‘n ‘baba’ in Christus is, en daarom is dit van uiterste belang om sekere dinge aan hom te verduidelik.
5.4.1 Sy Posisie:
Hierdie persoon is nou vergewe van al sy sondes en is nou geestelik lewendig, hy is nou ‘n kind van God. Hy het nou die ewige lewe ontvang en is nou onder die beskerming van die Here Jesus. Indien hy nóú tot sterwe kom sal hy Hemel toe gaan.
Sonder om hom nou te ‘bombardeer’ met ‘n klomp teksverse is dit tog belangrik om ‘n paar teksverwysings vir hom neer te skrywe wat hy self tuis kan gaan oplees en bepeins soos o.a.:
Efesiërs 2:1 “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes”
2Korinthiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”
Johannes 1:12 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo”
Johannes 10:27-28 “My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.”
1Johannes 5:12-13 “Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie. Dit het ek geskrywe aan julle wat glo in die Naam van die Seun van God, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het en kan glo in die Naam van die Seun van God.”
Johannes 14:2-3 “Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.”
5.4.2 Potensiële Gevare:
Alhoewel hierdie pas weergebore kind van die Here onder die beskerming van die Here is, het God aan hom ‘n wil toevertrou waarmee hy keuses moet maak. Die duiwel sal alles binne sy vermoë doen om hierdie jong Christen te laat struikel. Gevolglik moet dit aan hom verduidelik word dat hy baie versoekinge gaan ervaar, maar dat versoekinge nie sonde is nie.
1Petrus 5:8 “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.”
5.4.3 Sy Persoonlike Verantwoordelikheid:
Ons is uit genade alleen gered, en ons bly uit genade gered. Tog het die Christen ‘n persoonlike verantwoordelikheid wat hy moet nakom wat sy geestelike lewe betref. Hierdie verantwoordelikheid mag wel soms swaar wees, maar uit liefde vir God en waardering vir sondevergifnis is dit ‘n vreugde om na te kom.
a. Beskerming:
Die Christen moet alles binne sy vermoë doen om versoekings te vermy. Hy moet wegbly van dinge, plekke en persone wat sy geestelike lewe bedreig.
Efesiërs 4:27 “en gee aan die duiwel geen plek nie.”
1Johannes 5:18 “Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.”
b. Sondebelydenis:
Dit is moontlik vir ‘n Christen om te val vir versoeking en dan word dit sonde. Dit mag nooit gebeur nie, maar tog gebeur dit wel. Dit moet aan die bekeerling verduidelik word dat wanneer dit wel gebeur, hy onmiddelik dit moet bely teenoor God. Die Here sal hom onmiddelik weer vergewe.
1Johannes 2:1-2 “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.”
1Johannes 1:9 “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”
c. Gebed:
Die bekeerling moet op die belangrikheid van gebed gewys word. Persoonlike gebed sowel as gesamentlike gebed (saam met ander gelowiges) is die kragtigste ‘wapen’ in ons stryd teen die bose.
d. Bybellees:
Saam met gebed word die lees en bestudering van God se Woord beskou as geestelike asemhaling. Die een is so belangrik as die ander.
Psalm 119:11 Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.
e. Gemeenskap met gelowiges:
Die bekeerling moet verder daarop gewys word dat hy ‘n verantwoordelikheid teenoor homself asook die ‘liggaam van Christus’ (ander gelowiges) het om getrou te wees in die bywoning van geleenthede waar ander kinders van die Here bymekaar kom, soos dienste, Bybelstudies, bidure, ens.
Hebreërs 10:25 “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”
Waarom iemand kerk toe moet gaan:
Ø Dit is waar hy lering (voedsel vir sy siel) kry.
Ø Dit skep geleentheid waar hy saam met ander kinders van die Here aanbid.
Ø Dit is waar Christene bekaar beïnvloed en inspireer.
Ø Dit skep ‘n platform vanwaar daar vir die Here gewerk kan word.
Ø Dit is waar kinders van die Here mekaar op ‘n persoonlike vlak beter leer ken en bekend word met mekaar se nood en behoeftes sodat daar meer doelgerig vir mekaar gebid kan word en waar moontlik mekaar gehelp kan word.
Ø Dit skep wedersydse verantwoordbaarheid.
f. Heiligmaking:
Hierdie jong bekeerling moet nou geestelik groei. Hy moet voortdurend nuwe ‘lig’ ontvang en toenemend gelykvormig word aan die Beeld van God.
1Johannes 1:7 “Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”
1Thessalonicense 4:3 “Want dit is die wil van God: julle heiligmaking”
1Petrus 1:15-16 “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
2Petrus 3:18 “Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker”
g. Getuienis:
Dit is baie belangrik dat ‘n bekeerling sal getuig van dit wat God vir hom gedoen het deur sy siel te red. Wanneer hy getuig gebeur die volgende:
Ø Hy verloën (verneder) homself en só word Christus verhoog.
Ø Dit maak dit wat God in sy lewe gedoen het vir hom vas en dit maak die kanse minder om agterna te twyfel.
Ø Hy breek ‘brue’ agter hom af. Dit is moeiliker om weer sondige praktyke te beoefen as mens eers getuig het van verlossing.
Ø Ander mense evalueer hulself wanneer hulle na ‘n getuienis luister, en die Heilige Gees kan dit gebruik om ander mense te oortuig van hul verlore toestand.
1Petrus 3:15 “Maar heilig die Here God in julle harte en wees altyd bereid om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees”
h. Restitusie:
Daar mag moontlik dinge wees wat die jong bekeerling met ander mense moet gaan regmaak. Dit moet egter onder die leiding van die Heilige Gees gedoen word met groot omsigtigheid aangesien impulsiewe restitusie (selfs met die mooiste motiewe) groot skade kan aanrig in sekere gevalle.
Matthéüs 5:23-24 “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”
Wanneer bogenoemde aan die jong bekeerling verduidelik is en daar geen verdere vrae van sy kant af is nie, kan daar verdaag word waarna die proses van ‘dissipelskap’ begin.
Comments
Post a Comment