Stappe van Sielewenning:
Diagnose Redenasie Begeleiding Oriëntering Dissipelskap
5.5 Dissipelskap:
Daar berus ‘n groot verantwoordelikheid by die geestelike werker om ‘opvolgwerk’ te doen. Die jong bekeerling is nog baie broos en het die ondersteuning van die geestelike werker baie nodig. Dissipelskap moet spontaan wees, maar tog is daar ‘n paar riglyne of wenke wat tot hulp kan wees.
Skakel of besoek die jong bekeerling die volgende dag en hoor hoe dit met hom gaan. Verseker hom van jou getroue voorbidding vir hom.
Verskaf aan hom geestelike literatuur en ‘cd’s’ of ‘dvd’s’. Gee aan hom ook Bybelstudies wat relevant is tot jong bekeerlinge.
Sonder om ‘n oorlas van jouself te maak, besoek die jong bekeerling op ‘n gereelde basis.
Nooi hom uit na byeenkomste van gelowiges en betrek hom daarby. Wees egter sensitief vir sy swakhede of beperkings. Moet dus nie druk op hom plaas om voor ‘n gehoor te getuig of om hardop te bid nie, maar moedig hom aan en lei hom daarin.
Dit gebeur dikwels dat die jong bekeerling in sy geestelike honger na enige iets wat geestelik lyk gryp. Met groot versigtigheid moet hy geleer word om te onderskei tussen dwalleer en die waarheid.
Vermaan hom met liefde wanneer hy sondig, maar laat ook ruimte vir die oortuigingswerk van die Heilige Gees wat dinge betref wat die pertinent deur die Bybel as sonde geklasifiseer word nie. Onthou dat hy nie al die lig wat jy oor jare gekry het op een slag kan vat nie, hy moet deur middel van die proses van heiligmaking groei.
Wees ‘n vriend vir hom. Hy sal waarskynlik sy wêreldse vriende verloor, en het jou nou nodig. Verseker hom daarvan dat jy nie sy vertroue sal skend nie sodat hy met vrymoedigheid raad en leiding kan kom vra by jou, of selfs net dinge met jou bespreek wat hy nodig ag. Wanneer jy nie weet hoe om hom te antwoord nie, vra sy toestemming om, sonder om sy naam te noem, leiding by iemand wat jy vertrou te kry in hierdie verband.
Betrek hom by geestelike werk en leer hom om ook ‘n sielewenner te word.
Let op jouself. Die jong bekeerling sal jou waarskynlik as sy geestelike mentor beskou, en hy loop gevaar op teleurgestel te word as jy nie self wandel ooreenkomstig die Woord van God nie.
Epiloog:
Sielewenning is ‘n baie groot onderwerp wat onmoontlik volledig behandel kan word in ‘n studie soos hierdie. Die meeste wat ‘n kind van die Here ooit kan leer oor sielewenning is om dit te beoefen. Ondervinding wat opgedoen word tydens sielewenning en die leiding van die Heilige Gees kan nooit vervang word deur akademiese kursus nie. Verder moet daar rekening gehou word met die feit dat alle sielewenners ‘onervare’ begin het, en dat almal aanhou leer. Die uitdaging is nou om TE BEGIN.
Comments
Post a Comment