Skip to main content

Deel 5- Stappe van Sielewenning: 3 Begeleiding

 Stappe van Sielewenning:

      DiagnoseRedenasie Begeleiding Oriëntering
Dissipelskap

5.3 Begeleiding:

Voordat iemand begelei word in ‘n oorgawe is dit van kardinale belang om seker te maak dat hy:
-          Werklik onder besef van verlorenheid en sonde oortuiging verkeer en desperaat is om gered te word en te breek met alle sonde. Kosteberekening is essensieel omdar niemand gered kan word indien hy nie hom heelhartig tot die Here bekeer van AL SY SONDES nie.
-          Die Evangelie verstaan, en presies begryp waarmee hy nou besig is as hy ‘n oorgawe maak.
-          Geloof  het om die Here Jesus te vertrou.

Die geestelike werker kan vir die oortuigde persoon met wie hy nou werk vra om self te verduidelik waarom hy ‘n oorgawe wil maak. Hieruit kan ‘n goeie idee gevorm word van die begrip van sy toestand en die erns om uit dit te kom.

Hierna kan daar aan hom verduidelik word dat hy nou gaan bid en:
-          Teenoor God erken dat hy ‘n verlore sondaar is wat sondeskuld het en die ewige oordeel in die Hel verdien omdat God heilig en regverdig is.
-           Die Here Jesus dank dat Hy vir hom aan die kruis gely en gesterf het en opgestaan het uit die dood sodat hy gered kan word.
-          Die Here Jesus vra om op grond van Sy versoeningswerk hom te vergewe en te red.
-          Sy lewe aan die Here Jesus oorgee om Hom te dien.
-          Hom in geloof te dank daarvoor.

Dit is van groot belang dat daar aan die persoon verduidelik word dat hy self moet bid. Bogenoemde moet wel die bedoeling van die hart wees, maar aangesien die Here die ‘hart’ van die mens raaksien gaan dit nie oor die woorde wat gebid word nie.

Sommige mense is egter onwillig om hardop te bid en verkies dat die geestelike werker vir hom bid. So ‘n versoek behoort afgewys te word omdat trotsheid dikwels die oorsaak is van so ‘n versoek. Baie mense voel baie selfbewus wanneer hulle hardop bid en is baie ongemaklik daarmee. Hierdie persoon moet daarop gewys word dat God in elk geval alomteenwoordig is en alles hoor wat daar gesê word. Gebed is slegs ‘n gesprek met God.

Verder moet die persoon daarvan verseker word dat die geestelike werker nie sy gebed gaan kritiseer nie, maar wel in sy gedagtes gaan saamstem wanneer hy bid.


Verder moet die belangrikheid van selfverloëning aan hom gewys word.

Dit is wys om, voordat die persoon nou gaan bid, hom daarop te wys dat:
-          God NIE KAN LIEG NIE.
-          Die Here belowe het dat hy die sondaar SAL RED wanneer hy sy toevlug na Hom neem.
-          Dat Hy dit ONMIDDELIK GAAN DOEN.

Daarom kan daar deur die geestelike werker geblaai word na die volgende Skrifgedeeltes waarna daar aan die ander persoon gerva word om die volgende teksverse hardop te lees:

Titus 1:2 “in die hoop van die ewige lewe wat God, wat nie kan lieg nie, van ewigheid af beloof het”

Johannes 6:37 “Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” 

Openbaring 3:20 “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” 


Die geestelike werker kan nou ‘n gebed doen en die Here vertrou om hierdie persoon geloof  te gee, waarna die persoon gevra kan word om nou self te bid.

Wanneer die persoon klaar gebid het moet daar aan hom gevra word of hy sekerheid van saligheid het. Daar mag nooit aan hom gesê word dat hy gered is nie. Slegs die Heilige Gees kan daardie getuienis in sy hart gee.

Indien hy wel getuig van sekerheid van saligheid kan daar nou oorgegaan word tot oriëntering.

Indien hy nie van sekerheid kan getuig nie of selfs onseker klink moet alles weer aan hom verduidelik word om seker te maak dat hy dit verstaan.
Hy moet verder gewys word op die moontlike redes waarom iemand die sekerheid van saligheid ontvang nie, naamlik:
-          Afwesigheid van sondeoortuiging.
-          Afwesigheid van desperaatheid om met alle sonde te breek.
-          Afwesigheid van geloof.
-          Soeke na manifestasies, gevoel en emosionele belewenisse.
-          Vertroue op gebed en bekering.

 Die persoon moet weer geleentheid gegee word om te bid, en daar moet deur die geestelike werker saam met hom gebid word. Indien sekerheid van saligheid steeds ontbreek moet hy aangeraai word om aan te hou met gebed en die Here te vertrou om deur die Heilige Gees die hindernis aan hom uit te wys. Dit mag moontlik wees dat die persoon ‘n demoniese binding het a.g.v. betrokkenheid by okkultisme, wat dan spesifiek bely word. Die geestelike werker moet onthou dat hy nie iemand kan red nie, en daarom moet hy aanhou bid vir hierdie persoon.  Daar is gevalle waar die persoon aangeraai word om te gaan afsonder en volhardend die Here moet vertrou om sy siel te red.

Indien die persoon nou van sekerheid van saligheid getuig kan daar na die volgende stap naamlik oriëntering oorgegaan word. 


Comments

Popular posts from this blog

Deel 5- Stappe van Sielewenning: 2 Redenasie

Stappe van Sielewenning:   Diagnose   Redenasie  Begeleiding  Oriëntering   Dissipelskap 5.2   Redenasie: Wanneer hier van ‘redenasie’ gepraat word is dit belangrik dat dit nie verwar word met ‘n ‘stryery’of ‘twis’nie, maar wel om die Evangelie logies te beredeneer. In Jesaja 1:18 (KJV) kom die gedagte baie duidelik na vore: “Come now, and let us  reason together , saith the LORD: though your sins be as scarlet, they shall be as white as snow; though they be red like crimson, they shall be as wool”. Die Here God het die mens as ‘n intellektuele wese geskape en verwag gevolglik ‘intellektuele geloof’, en nie ‘blinde geloof’ nie.  Dit is onhaalbaar om ‘n vooropgestelde redenasie uiteen te sit en daarop sal slegs die kerngedagte van elke tipe gesprek genoem word. 5.2.1          Ateïs: Alhoewel die fokus van die verskillende tipes Ateïste verskil, is die basis van hulle standpunt die ontkenn...

Deel 1- Wat Is Redding?

‘Sielewenning’ is die handelinge waarvolgens een persoon ‘n ander persoon begelei om die ewige saligheid van sy onsterflike siel te soek en te vind in die Here Jesus Christus. Dit is slegs God alleen wat ‘n verlore sondaar kan red, maar tog het Hy gekies om deur die betrokkenheid van ander mense iemand te oortuig en te lei tot ware bekering, waarna Hy die wedergeboorte bewerk in daardie persoon se lewe. God is selfstandig en onafhanklik en is in staat om ‘n sondaar se siel te red sonder die tussenkoms van ‘n mens, maar tog het Hy ‘n soewereine wilsbesluit geneem om die mens in te sluit by hierdie aktiwiteit. Die Here kon ook van engele gebruik maak om hierdie taak te verrig, maar Hy het besluit om aan die mens hierdie verantwoordelikheid en voorreg te gee. 1.   Wat is Redding? Die term ‘redding’ verwys na die Goddelike daad waardeur die eens verlore sondaar genadiglik vergewe word van al al sy sondes, vrygespreek word van die straf wat hy daarvoor verdien het (naaml...