Skip to main content

Deel 5- Stappe van Sielewenning: 2 Redenasie

Stappe van Sielewenning: 
Diagnose Redenasie Begeleiding Oriëntering Dissipelskap

5.2 Redenasie:

Wanneer hier van ‘redenasie’ gepraat word is dit belangrik dat dit nie verwar word met ‘n ‘stryery’of ‘twis’nie, maar wel om die Evangelie logies te beredeneer. In Jesaja 1:18 (KJV) kom die gedagte baie duidelik na vore: “Come now, and let us reason together, saith the LORD: though your sins be as scarlet, they shall be as white as snow; though they be red like crimson, they shall be as wool”. Die Here God het die mens as ‘n intellektuele wese geskape en verwag gevolglik ‘intellektuele geloof’, en nie ‘blinde geloof’ nie. 
Dit is onhaalbaar om ‘n vooropgestelde redenasie uiteen te sit en daarop sal slegs die kerngedagte van elke tipe gesprek genoem word.


5.2.1        Ateïs:

Alhoewel die fokus van die verskillende tipes Ateïste verskil, is die basis van hulle standpunt die ontkenning van God. Die inspirasie en geloofwaardigheid van die Bybel moet eers bewys word, waarna die Evangelie verduidelik kan word. Die vervulling van Bybelprofesie, argeologiese bevestiging van Bybelverhale, asook die vermelding van sekere feite wat die natuur betref wat eers in die moderne tyd ‘ontdek’ is, is onweerlegbare bewys van die Goddelike inspirasie van die Bybel. Alhoewel daar baie voorbeelde gegee kan word sal slegs een van elk hier vermeld word.

  
- Bybelse Profesie:

In Lukas 10:15 sê die Here Jesus: “En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word”.  In die jaar 749 het ‘n hewige aardbewing in Galiléa Kapérnaüm verwoes, en vandag is slegs die argeologiese park die herinnering van daardie eens vooruitstrewende stad.

- Argeologiese Bevestiging:

In Genesis 19:24 lees ons: “En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel”. Suid van die Dooie See lê Sodom. Behalwe vir die versteende ruïnes het Argeoloë ook ‘klippe’ daar ontdek waarin hulle, as hulle dit oopbreek, swawelballe binne in vind. Die klippe is na laboratoriums geneem en ontleed waar hulle die ontdekking gemaak het dat die ‘klippe’ egter versteende as is. Die enigste logiese verklaring is dat brandende swawel balle op die stad gereën het en die stad weens die intense hitte inmekaar gestort het waar van die brandende swawel balle gesmoor is deur die rommel.

- Bevestiging deur Nuwe Ontdekkings:

Jeremia 33:22: “Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien”. Sterrekundiges het vir baie jare daarop aanspraak gemaak dat hulle die sterre kon tel. So het Ptolemy beweer dat daar 1056 sterre in die hemel is. Tycho Brahe het 777 getel. Kepler het daarop aanspraak gemaak dat hy al die 1005 sterre getel het. Na die ontwikkeling van die teleskoop is daar vasgestel dat die sterre nie getel kan word nie, en word dit bereken as meer as 100 biljoen sterre!



5.2.2        Agnostikus:

Die Agnostikus huldig die siening dat daar wel ‘n God is, maar dat daar niks van Hom geweet of geleer kan word nie. Die betrokkenheid van sodanige God by die mens se lewe bestaan volgens hulle nie. Daarom sal dieselfde benadering nodig wees as by die Ateïs.



5.2.3        Apatiese:

Die Apatiese persoon ontken nie die bestaan van God nie, maar hy steur hom nie aan so ‘n Wese nie, sou so ‘n Wese wel bestaan. Dieselfde benadering as bogenoemde sal nodig wees, maar met ‘n groter klem op die aanspreeklikheid van die mens en die oordeel van God.



5.2.4        Gelowige van kultusse of ander godsdienste as Christenskap:

Dit is nie moontlik om in hierdie kort kursus elke kultus of godsdiens te bespreek nie, maar die sleutelgedagte is om vas te stel wat hierdie persoon se beskouing is van:
·         God
·         Jesus Christus
·         Die Heilige Gees
·         Die Drie-Eenheid
·         Inspirasie en Outoriteit van die Bybel
·         Sonde
·         Versoeningswerk van Jesus Christus
·         Die Eindbestemming van die Siel van die Mens

Behalwe vir Judaiste (wat wel die Ou Testament se outoriteit erken) sal dieselfde benadering van mense van ander godsdienste gevolg word as vir ateïste, naamlik om die outoriteit van die Bybel te bewys. Die Bybel is die enigste ‘Godsdienstige Geskrif’ wat voorspellings bevat wat honderde en selfs duisende jare later presies net so in vervulling gegaan het.

‘n Mens se persoonlike getuienis saam met ‘n lewenswyse wat jou getuienis bevestig is dikwels deurslaggewend om iemand van ‘n ‘ander geloof’ vir Christus te wen.

Liefde is die sleutelwoord. Die sterk gevestigde kollektiewe identiteit wat voorkom by mense van sekere kulture en gelowe kan gesien word as een van die groot hindernisse in die weg van bekering, omdat ekskommunikasie, ekspropriasie, en selfs eksekusie dikwels die noodwendige gevolg van sodanige bekering tot die Christendom is. Gevolglik sal die sielewenner se liefde vir ‘n verlose siel in so ‘n mate sigbaar wees dat die potensiële bekeerling sal weet dat groot opofferings gemaak sal word om hom in te neem en te versorg, sou dit nodig wees. 

Die volgende teksverse uit die Ou Testament wat na die Here Jesus verwys kan vir ‘n Jood gelees word: Genesis 3:15, 49:10, Deuteronomium 18:15, Psalm 69:22,  Jesaja 9:5, 7:14, 40:3, Daniël 9:26,  Joël 2:28, Miga 5:1, en Sagaria 9:9.  Jesaja 52:13-53:12 is van baie groot belang om aan die Jood die Here Jesus se versoeningswerk te verduidelik.

Vir iemand van enige godsdiens behoort Johannes 3:16 gelees en verduidelik te word. Dit is juis die boodskap van Christus se versoeningswerk en Sy genade en liefde vir die mens wat die Christelike Godsdiens van ander ‘gelowe’ onderskei. 


5.2.5        Vorm-godsdienstige en selfregverdigende Christen:

Vir enige iemand om gered te kan word is ‘sonde oortuiging’ en ‘besef van verlorenheid’ absoluut noodsaaklik. Hierdie is egter die werk van die Heilige Gees in die hart van die verlore sondaar, maar tog berus die verantwoordelikheid op die oortuigde om dit te erken.

Markus 2:17 “En toe Jesus dit hoor, sê Hy vir hulle: Die wat gesond is, het die geneesheer nie nodig nie, maar die wat ongesteld is. Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering”

Lukas 19:10 “Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” 

Matthéüs 1:21 “en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” 

Daar is egter verskeie hindernisse in ‘godsdienstige mense’ (belydende Christene) se weg tot ‘erkenning’:

·         Trotsheid:

Mense sien nie kans om hulself te verneder nie, en so ‘n erkenning van verlorenheid sal ‘n negtiewe effek hê op hul selfbeeld asook reputasie. Die beeld wat hulle deur jare opgebou en voorgehou het gaan skielik afgebreek word, en vir hierdie vernedering sien mense nie kans nie. Ontmaskering sal dikwels ten enige koste vermy word!

·         Sekuriteit:

Godsdiensbeoefening, veral waarmee iemand goed bekend is vanaf sy kinderdae, skep ‘n gevoel van geborgenheid in mense se lewens. Wanneer iemand alreeds vir baie jare in die tradisionele vorm-godsdiens gevestig is waarin hy sy hoop vir ‘n salige hiernamaals geplaas het skielik tot die oortuiging kom dat dit geensins sy redding verseker nie, dan word hy skielik ontnugter deur die weerloosheid van sy siel. Wanneer die vorm-godsdienstige se ‘fondament’ onder hom uitgeruk word, is die neiging om te gryp na dit wat hom veilig laat voel het!

·         Selfverlossingsdrang:

Daar is by die mens ‘n ingebore behoefte aan verdienste. Weens die trotsheid wat inherent deel van die sondige natuur van die mens is, is daar satisfaksie in om ook op godsdienstige gebied te ‘presteer’. Behalwe vir die erkenning wat so ‘n persoon deur ander mense geniet, voed dit ook die aptyt na eie geregtigheid. Die teleurstelling wat iemand beleef kan nie beskryf word nie wanneer hy na jare se ywer en toewyding tot die besef kom dat dit alles tevergeefs was, en niks bygedra het tot die saligheid van sy siel nie. Daarom sal baie mense ‘n stryd voer teen sonde-oortuiging en vashou aan sy hoop op verdienste. 

·         Misleiding:

Dikwels kan die skuld van mense se vorm-godsdiens gelê word voor die deur van predikante wat deur die verkondiging van dwaalleer by hul lidmate ‘n valse gerustheid skep. Ten spyte van die duidelikheid wat die Skrif gee oor die verdorwenheid van die mens en sy verantwoordelikheid ten opsigte van bekering en geloof in die versoeningswerk van Christus, word menslike passiwiteit as antwoord op God se soewereine onvoorwaardelike uitverkiesing soms verkondig. Ander verkondig weer ‘n werke-godsdiens waarin die mens op homself aangewese is vir sy eie saligheid, in plaas daarvan op sy sieleheil buitekant homself te gaan soek naamlik in Christus se versoeningswerk. Wanneer die vorm-godsdienstige mens dan onder die besef van verlorenheid kom voel hy verraai deur sy kerk en predikant, en dikwels sal sentiment hom dryf om teen so ‘n erkenning te stry. Ontkenning is die maklikste manier om ontnugtering te verdryf!

Psalm 58:4 “Afvallig is die goddelose mense van die geboorte af; die leuensprekers dwaal van die moederskoot af.”

Psalm 51:7 “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” 

Romeine 3:10 “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.” 

Romeine 5:12 “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het” 

Romeine 3:23 “want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God”

Matthéüs 7:21-23 “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” 

2Petrus 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 

Johannes 3:3 “Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” 

Matthéüs 7:13-14 “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.” 

  
5.2.6        Oortuigde en/of soekende sondaar (ingesluit die hopelose):

Die gesprek met hierdie mens moet daarop fokus om hom voor te stel aan die liefde van God en die uitvloeisel daarvan, naamlik die versoeningswerk van Jesus Christus aan die kruis. Dit is baie belangrik dat die persoon sal besef dat God hom wíl red.

2Petrus 3:9 “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” 

1Timótheüs 2:3 “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” 

Romeine 5:8 “maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” 

Johannes 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” 


5.2.7        Valse bekeerde Christen:

Dit is ‘n algemene verskynsel dat mense ‘tot bekering kom’ sonder dat hulle weergebore word. Daar kan verskeie redes hiervoor wees:
-          Oortuiging van sonde en besef van verlorenheid ontbreek.
-          Hulle is nie waarlik gewillig om te breek met al hulle sondes nie.
-          Geloof ontbreek.
-          Vertroue word in die sondaarsgebed / bekering geplaas i.p.v. die versoeningswerk van Jesus Christus.

Johannes 1:12-13 “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” 

Alhoewel dit nie moontlik is om iemand anders se ‘hart’ te sien nie, is daar tog sekere kenmerke van iemand wat waarlik gered is. Die Here Jesus self het gesê in
Matthéüs 7:16-20 “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken”. 


~ Die Kenmerke van Ware Wedergeboorte:

-          Veranderde lewe:

2Korinthiërs 5:17 “Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.”

-          Gehoorsaamheid

Johannes 10:26-27 “Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.” 

1Johannes 3:8-9 “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.” 

1Johannes 5:3 “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” 

Johannes 8:47 “Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.” 

Titus 1:16 “Hulle bely dat hulle God ken, maar hulle verloën Hom deur die werke, omdat hulle gruwelik en ongehoorsaam is en ongeskik vir elke goeie werk.” 

Romeine 8:9-10 “Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid.” 

-          Bewaring:

1Johannes 5:18 “Ons weet dat elkeen wat uit God gebore is, nie sondig nie; maar hy wat uit God gebore is, bewaar homself, en die Bose het geen vat op hom nie.” 

-          Liefde vir God se Woord:

Johannes 14:23 “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” 

1Johannes 4:6 “Ons is uit God; hy wat God ken, luister na ons; hy wat nie uit God is nie, luister nie na ons nie. Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling.” 

-          Getuig:

Romeine 10:9-10 “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding. 

Lukas 6:45 Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is; en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond.”

-          Liefde:

1Johannes 4:7-8 “Geliefdes, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” 

Spreuke 11:30 “Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys.” 


-          Heiligmaking:

1Johannes 3:2-3 “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” 

Filippense 2:12-13 “Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” 

-          Wederkomsverwagting:

Openbaring 22:17 “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Alhoewel die afwesigheid van bogenoemde kenmerke daarop kan dui dat iemand die werklik weergebore is nie, is dit gevaarlik om dit as noodwendig te beskou dat die persoon steeds ongered is. Daarom is dit wys om eerder die persoon aan te raai om hom/haarself geestelik te evalueer aan die hand van bogenoemde. 

2Korinthiërs 13:5 “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef. Of is julle nie seker van julself dat Jesus Christus in julle is nie—as julle ten minste nie verwerplik is nie!”


5.2.8        Teruggevalle Christen:

Die geestelike werker kom soms in aanraking met persone wat wel op ‘n staduim gered geword het en toe die Here Jesus gedien het, maar huidiglik in ‘n sondige toestand lewe. Die Skrif gee wel vir die weergeborene die versekering van saligheid en beloftes van God se instandhoudingswerk in Sy kinders se lewens, maar nêrens in die Woord is daar versekering van saligheid vir iemand wat in sonde volhard nie.  Inteendeel sê die Here Jesus in

Johannes 15:6 “As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand.” 

As Vader sal die Here nooit passief toekyk hoedat Sy kinders in sonde lewe nie.

1Korinthiërs 11:32 “Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.” 

Dit is ‘n baie ernstige saak wanneer die Here Sy kind wat afgedwaal het tugtig. Daarom moet die teruggevallene gewys word op die gevaarlike posisie waarin hy verkeer.

Aan die positiewe kant moet hy ook herinner word aan die loon wat wag op elke kind van die Here wat volhard.

Jakobus 1:12 “Salig is die man wat versoeking verdra, want as hy die toets deurstaan het, sal hy die kroon van die lewe ontvang wat die Here beloof het aan die wat Hom liefhet.” 

2Timótheüs 4:8 “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het.” 


5.1.9        Gestagneerde Christen:

Waar die teruggevalle Christen weer in sonde lewe is die gestagneerde Christen slegs in ‘n posisie waar geestelike groei afwesig is en hy die geestelike dissiplines volg slegs uit gewoonte. Hierdie persoon moet daarop gewys word dat hy in ‘n baie gevaarlike posisie verkeer aangesien hy op die punt staan om te begin terug val. Die volgende is teksverse waaraan hy/sy herinner kan word: 

Openbaring 2:4-5 “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.” 

Openbaring 19:7-8 “Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.” 

Matthéüs 24:44 “Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” 

1Johannes 2:28 “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie.”


Wanneer enige een van bogenoemde persone aandui dat hulle oortuig is en die noodsaaklikheid besef om sy/haar saak met God reg te maak moet hy/sy begelei word om die Here Jesus as persoonlike Verlosser en Saligmaker aan te neem of om herstel te word indien hy/sy ‘n teruggevalle of gestagneerde Christen is.




Comments

Popular posts from this blog

Deel 5- Stappe van Sielewenning: 3 Begeleiding

  Stappe van Sielewenning:       Diagnose Redenasie  Begeleiding   Oriëntering Dissipelskap 5.3   Begeleiding: Voordat iemand begelei word in ‘n oorgawe is dit van kardinale belang om seker te maak dat hy: -            Werklik onder besef van verlorenheid en sonde oortuiging verkeer en desperaat is om gered te word en te breek met alle sonde. Kosteberekening is essensieel omdar niemand gered kan word indien hy nie hom heelhartig tot die Here bekeer van AL SY SONDES nie. -            Die Evangelie verstaan, en presies begryp waarmee hy nou besig is as hy ‘n oorgawe maak. -            Geloof    het om die Here Jesus te vertrou. Die geestelike werker kan vir die oortuigde persoon met wie hy nou werk vra om self te verduidelik waarom hy ‘n oorgawe wil maak. Hieruit kan ‘n g...

Deel 1- Wat Is Redding?

‘Sielewenning’ is die handelinge waarvolgens een persoon ‘n ander persoon begelei om die ewige saligheid van sy onsterflike siel te soek en te vind in die Here Jesus Christus. Dit is slegs God alleen wat ‘n verlore sondaar kan red, maar tog het Hy gekies om deur die betrokkenheid van ander mense iemand te oortuig en te lei tot ware bekering, waarna Hy die wedergeboorte bewerk in daardie persoon se lewe. God is selfstandig en onafhanklik en is in staat om ‘n sondaar se siel te red sonder die tussenkoms van ‘n mens, maar tog het Hy ‘n soewereine wilsbesluit geneem om die mens in te sluit by hierdie aktiwiteit. Die Here kon ook van engele gebruik maak om hierdie taak te verrig, maar Hy het besluit om aan die mens hierdie verantwoordelikheid en voorreg te gee. 1.   Wat is Redding? Die term ‘redding’ verwys na die Goddelike daad waardeur die eens verlore sondaar genadiglik vergewe word van al al sy sondes, vrygespreek word van die straf wat hy daarvoor verdien het (naaml...