‘Sielewenning’ is die handelinge waarvolgens een persoon ‘n ander persoon begelei om die ewige saligheid van sy onsterflike siel te soek en te vind in die Here Jesus Christus. Dit is slegs God alleen wat ‘n verlore sondaar kan red, maar tog het Hy gekies om deur die betrokkenheid van ander mense iemand te oortuig en te lei tot ware bekering, waarna Hy die wedergeboorte bewerk in daardie persoon se lewe. God is selfstandig en onafhanklik en is in staat om ‘n sondaar se siel te red sonder die tussenkoms van ‘n mens, maar tog het Hy ‘n soewereine wilsbesluit geneem om die mens in te sluit by hierdie aktiwiteit. Die Here kon ook van engele gebruik maak om hierdie taak te verrig, maar Hy het besluit om aan die mens hierdie verantwoordelikheid en voorreg te gee.
1. Wat is Redding?
Die term ‘redding’ verwys na die Goddelike daad waardeur die eens verlore sondaar genadiglik vergewe word van al al sy sondes, vrygespreek word van die straf wat hy daarvoor verdien het (naamlik die ewige pyniging in die Hel), verlos word van die mag wat sonde oor hom gehad het, en waardeur God hom Sy kind maak, sy natuur verander, en hom sekerheid van die ewige lewe gee. Die Skrif maak dit vir ons baie duidelik dat daar ‘n bepaalde kronologiese proses is waarvolgens Hy te werk gaan wanneer Hy iemand red. Hierdie proses staan bekend as ‘die heilsorde’ (Ordo Salutis).
Die ‘Heilsorde’ is as volg:
1.1 Roeping:
Die Heilige Gees oortuig die sondaar van sy sondige en verlore toestand en roep hom dan tot bekering. Dít doen Hy deur die geskrewe Woord (die Bybel), die gepredikde Woord (boodskappe of persoonlike gesprekke), die gewete, natuur, voorspoed, teenspoed, voorbeelde in ander mense se lewens, wêreldgebeure, ens.
Indien die Heilige Gees iemand nie ‘roep’ of ‘oortuig’ nie kan so ‘n persoon nooit gered word nie.
Johannes 6:44 “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”
Dit is egter baie belangrik om daarop te let dat die Here Jesus wel ALMAL een-of-ander tyd roep.
Titus 2:11 “Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn”
1.2 Bekering:
‘Bekering’ beteken om ‘om te draai’. In die verband van redding is bekering ‘n bewustelike daadwerklike ondervinding waar die sondaar die keuse maak om al sy bewustelike sondige handlinge oombliklik en permanent te staak, sy toevlug in geloof na die Here Jesus neem vir die vergifnis van al sy sondes van sy verlede, en hy homself daartoe verbind om vir die res van sy lewe die Here Jesus te dien en te gehoorsaam. Dit is waarvan 2Petrus 3:9 praat: “Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom”.
Daar is wel in sommige mense se lewens vóór hulle ‘bekering tot redding’ verskeie ‘bekerings’, bv. waar iemand die keuse maak om op te hou om alkohol te gebruik. Hierdie ‘bekerings’ mag nie verwar word met die daadwerklike ondervinding van ‘bekering tot redding’ nie. Daar is ook vele ‘vals bekerings’ waarop hulle hul saligheid bou. Dan is dit wel waar dat die reeds geredde persoon voortdurend homself moet ‘bekeer’ van dinge waarvan die Heilige Gees hom oortuig tydens die proses van heiligmaking. Ook hierdie bekerings mag nie verwar word met ‘bekering tot redding’ nie.
Bekering is die verantwoordelikheid van die mens self. Alhoewel God in die mens se hart die drang en begeerte na bekering werk, moet die mens self daardie keuse uitoefen.
1.3 Regverdigmaking: Vergifnis, Vryspraak, en Verlossing:
God beantwoord die mens se bekering dan met regverdigmaking waartydens Hy die verlore sondaar regverdig verklaar op grond van die versoeningswerk van Jesus Christus.
Romeine 5:1 “Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus”
Romeine 5:9 “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”
Romeine 5:18 “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.”
Tydens ‘regverdigmaking’ vergewe God al die sondes van die bekeerde se verlede, Hy spreek hom ook vry van die straf wat hy verdien het, en Hy maak die sondaar vry van die mag wat sonde oor hom gehad het. Hierdie is in geheel die werk van die Here God, en ‘n mens kan geensins dit doen of daartoe bydra nie.
1.4 Wedergeboorte:
‘Wedergeboorte’ is ook die werk van God in die hart van die bekeerde sondaar waartydens Hy daardie persoon wat ‘geestelik dood’ was ‘geestelik lewens’ maak (Efesiërs 2:1) en nuut maak (2Korinthiërs 5:17). Hierdie gebeurtenis kan nie geskei word van ‘regverdigmaking’ nie alhoewel dit onderskei word. Dit is een enkele ondervinding.
Titus 3:4-5 “Maar toe die goedertierenheid van God, ons Verlosser, en sy liefde tot die mens verskyn het— nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees”
1Petrus 1:3 “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode”
1.5 Heiligmaking:
Omdat die Heilige Gees van God nou inwoning kom maak het in die bekeerde se lewe is daar nou onmiddelik ‘n proses aan die gang gesit waar die Heilige Gees die geredde persoon voortdurend oortuig van dinge, aksies, denke, gewoontes, gesindhede, ens. wat gestaak moet word, en ander wat weer beoefen moet word, en ander wat reeds beoefen word moet toeneem.
1Thessalonicense 5:23 “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!”
1Thessalonicense 4:7 “Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking.”
Hierdie proses begin by wedergeboorte en lei tot die bewustelike ondervinding van die reiniging van inwonende sonde en die gepaardgaande vervulling met die Heilige Gees, waarna hierdie proses voortgesit word. Hierdie is egter ‘n lewenslange proses waar die Heilige Gees en die mens self meewerk om toenemend gelykvormig te word aan die beeld van Jesus Christus. Die Heilige Gees is die aktiewe Persoon, maar Hy sal Sy heiligmakende werk slegs doen soos wat die mens Hom daarvoor vertrou en saam werk.
1Petrus 1:15-16 “Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.”
1.6 Verheerliking:
Verheerliking vind plaas wanneer die weergeborene tot sterwe kom en sy gees en siel die ewige heerlikheid van die Here Jesus binnegaan. Alhoewel hierdie mens se siele en gees nou in ‘n bewustelike staat verkeer en vry sal wees van sonde , hartseer, pyn en bekommernis, verwys die term ‘verheerliking’ verder na daardie oomblik van die Here Jesus se wederkoms wanneer al die weergeborenes wat reeds gesterwe het sal opstaan uit die dood om met verheerlikde liggame saam met die weergeborenes wat nog gelewe het, die Here Jesus tegemoet gaan in die lug. Dan sal die mens vir ewig in ‘n verheerlikde liggaam wees.
1Korinthiërs 15:51-52 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”
Comments
Post a Comment